Welkom by Laerskool Protearif
Waar elke kind blom!
By Laerskool Protearif streef ons daarna om ʼn veilige, stimulerende en gebalanseerde leeromgewing te skep waar elke leerder sy/haar volle potensiaal kan bereik. Ons is trots op ons sterk akademiese grondslag, ons waarde-gedrewe kultuur en die geleenthede wat ons bied vir sport, kultuur en tegnologie.
Ons glo in samewerking met ouers, personeel en die gemeenskap, om leerders vir die toekoms toe te rus, met selfvertroue, kreatiwiteit en karakter.
Meer oor ons
"Waar kinders nog kínd kan wees..."
Ons is geleë in die hart van die Wieg van die Mensdom, omring deur ‘n rustige landelike atmosfeer, wat leer en ontdekking aanmoedig. Hier glo ons dat kinders die ruimte en vryheid moet hê om te speel, groei en leer, in ‘n veilige en koesterende omgewing.
Ons bied onderrig aan, vanaf Kleuterskool en Graad R tot Graad 7. Die skool is slegs 10 km, of 5 minute van die N14-hoofweg af – perfek vir gesinne wat ʼn balans tussen toeganklikheid en ‘n rustige leeromgewing soek.
Wat maak ons uniek?
Laerskool Protearif bied aan ons leerders:
- Persoonlike aandag en klein klasgroottes
- Toegewyde en gekwalifiseerde personeel
- ‘n Uitgebreide sport- en kultuurprogram
- Moderne fasiliteite en tegnologie-ondersteunde klaskamers
- Christelike waardes en ‘n liefdevolle, gedissiplineerde omgewing
Voorwoord
#gerat
Hartlik welkom aan elke “rat”, groot of klein, van die Protie-masjien!
Jaarliks sit ons koppe bymekaar om ’n riglyn of tema te bepaal waarbinne, en waarom, die aktiwiteite van ons skool vir daardie jaar plaasvind.
By Laerskool Protearif het ons die spreekwoordelike hoop en voorspoed van die reënboog ná die storm van 2017 intens beleef—en behoorlik daarin baljaar!
Ons het ’n feestelike safari-jaar, so eie aan ons landelike omgewing, voluit benut en geniet.
Lugballonne het gereeld ons Protie-lugruim versier en ons het hoog ge#styg, om van bo af na dinge te kyk—dit het vir ons ’n ander uitkyk op baie dinge gegee.
Op #roete23 het ons rondgevaar, nuwe dinge ondersoek en beleef en anker gegooi op plekke waar ons langer wóú, of móés vertoef.
Strategies het ons saam besluit om in 2024 #onder-konstruksie te wees — om te herleef, te restoureer waar dit nodig was en nuwe “bouprojekte” aan te pak en te bou! #proties-bou
Ons het woorde en sinne gebou…
Ons het Wiskunde-somme gebou…
Ons het toesprake, tonele en ’n revue gebou…
Ons het spiere gebou én gewys op die sportveld…
Ons het verhoudings gebou…
Ons het karakters gevorm en gebou…
En ons het beslis aan ons skool se beeld gebou!
Die bou-inspekteurs het die Protie-konstruksieterrein besoek, deeglik geïnspekteer en die “2024-konstruksiejaar” as hoogs suksesvol afgeteken. Laerskool Protearif is verklaar as #gerat vir 2025!
Vir 2025 is ons gerat vir álles wat op ons pad mag kom!
Gerat en gereed is sinoniem — en ons glo elkeen se “ratte” is góéd ge-olie, ná ’n welverdiende vakansie, want ons is:
Gerat vir…
aksie… uitdagings… verandering… ons teenstanders en kompetisie…
begrip vir ander mense en ons mede-Proties…
geleerdheid… geleenthede…
groot gebeurtenisse… gelukkig-wees…
groot dink, droom en doen…
saamstaan… en samewerking om groot geld in te samel (Protea-fees)!
Ons is gerat met…
deursettingsvermoë, toewyding, integriteit, liefde,
goedhartigheid, empatie, nederigheid, vreugde,
getrouheid, selfbeheersing, vrede, genade en gebed.
Ons is gerat om…
gunste en gawes uit te deel — maar óók om te ontvang.
Ons is nederig ontvanklik en afhanklik, gerat vir…
God se goedheid en guns en om in dankbaarheid te kniel.
Ons is gerat vir sukses, want ons wéét:
elke Protie is goed genoeg, net soos wat hy of sy is!
En ons leef elke dag só, nóú saam met Mattheus 24:42-44…
om eendag, gereed te wees vir die Ewige Lewe.
In my geestesoog sien ek al ons Proties — leerders, onderwysers, personeel, ouers en die gemeenskap, by die wegspringblokke saamdrom vir die 2025-“100m”-naelloop (want ons wéét dit gaan weer ’n vinnige een wees!).
Ek sien die afsitter se pistool en wit vlag in die lug…
Ek hoor sy stem: “Op julle merke, gereed…!”
2025 se “wit lint” by die wenpaal wag vir jóú bors om dit te breek —
en ek wéét, ons is #gerat!
Donna Lourens
Hoof
Visie
Uitnemende onderwys, deur passievol binne ‘n landelike atmosfeer die deur na ‘n blink toekoms saam met elke kind te ontsluit.
Missie
Ontwikkeling van elke kind se unieke talente.
Ontwikkeling van leerders se intellektuele, fisiese, sosiale en emosionele vaardighede, op hul reis na volwassenheid.
Passievolle en toegewyde personeel.
Effektiewe kommunikasie.
Konsekwente toepassing van beleide.
Waardes
Liefde, respek, lojaliteit, integriteit, passie.
Leiers 2025